HomeStoepstoriesDop se Kadetstories

Dop se Kadetstories

User Rating:  / 1
PoorBest 

Net na die Tweede Wêreld oorlog, was Suid Afrika in rep en roer. Duisende terugkerende soldate moes werk kry en ook saam met hulle manne van Europa (Nederlanders en Duitsers). De Aar het hulle met ope arms ontvang. Die Regering het aan hulle werk verskaf en hulle het diep spore in De Aar getrap. Met die soldate het ook baie oorlogstories gekom. Ons het met groot oë sit en luister na hul heldedade! Ook die Amerikaners het ons oordonder met hul fliekstories. Ons jonges wou net soldate word!

Die Skietkommando van De Aar was ook baie bedrywig en meeste van ons Pa's was lede van die Kommando. Menere Das Erasmus en Andries Lesch was albei Onderwysers maar ook grootkoppe in die Kommando. Dit het ook veroorsaak dat hulle daardie dissipline laat oorgespoel het in die skole. As jy in standerd 6 land, was jy 'n Kadet! Ai, hoe het ons nie uitgesien na daardie uniform nie! Die Magasyn (stoorkamer) was op die Laerskool se terrein. Niemand was daarin toegelaat nie. Net die Onnie-offisier en ou Koos Rembrandt. Ou Koos het ons ook altyd bang gepraat oor al die vreeslike dinge wat daarbinne gestoor was. Tot bomme!

De Aar KadetorkesEk weet nie van voor die Oorlog nie, maar in 1953 het die Kadetorkes weer herlewe. Die Kadette self het ook seker bietjie laag gelê gedurende die Oorlog. Jimmy Botha het die orkes op die been gebring, en vir baie jare daarna, het Jimmy gehelp met die orkesafrigting. Na hom het Manie du Plessis die Tamboermajoor geword en selfs jare na skool, het Manie die manne touwys gemaak. In 1960 het Coenie Nolte die skool getref! Sommer dadelik het Coenie sy lyf by die orkes ingegooi en begin ritme bring! Trompette! Waar die orkes altyd net 'Sannie se koek' gespeel het, het hulle begin marse speel! Na Manie, was Fanie Maritz, Johan Barnard, Jan Labuschage en Clifford Williams in beheer.

Groot Willem Theron, Kobus Vermeulen en ek kon nie die klein keteltromme baasraak nie, en het dus die bastrom geslaan. Ai, het ons nie mooi gelyk met daardie tiervel aan nie! Die Vermeulen broers (Gert, Stoffel en Flip), Henry Kok, Ben Pizer, Izak Willemse en Clifford Williams was in ons tyd die 'vinnige' manne. Hulle kon die velle laat bewe! Cassie Vorster en Jakkie van Heerden was die trompetmanne! Hulle het die Trompoppies sommer ekstra 'wip' in hul stappies gegee! Met daardie orkes het Coenie die Karoo plat getoer. In my dae alleen kan ek onthou van die opening van Hopetown se pawiljoen en Philipstown se Ouetehuis! Ons is daar gevoer met koeksisters en sop dat ek dit nou nog nie in die oë kan kyk nie!

Maar die Kadette. Dit was die eintlike ervaring. Nie dat daar veel geveg was of tyd was om 'n held te wees nie, maar ai, die kameraadskap! In so 'n peloton was manne van std 6 tot matriek in die begin van die jaar bymekaar gegooi. Elke week het julle saam aangetree, saam marsjeer, is julle saam uitgeskel en het julle saam swaar gekry. Die manne in beheer was ware manne. As ek so terugdink aan die offisiere en onder-offisiere, was hulle daardie tyd al 'spesiale' manne. Ons praat nou die dag so van Jan Maritz! Ai, sy maats het sommer gesweet as hulle Jan sien! Na hom was daar Piet van Wyk, Willem Postma, Andre van Greunen, Buks de Wet, Marthinus Postma, Arrie de Klerk, Bernie Gous,  Nico van der Merwe. Pieter Robberts, Ewald Oberholzer, Fin en Hentie du Plessis, Ferdinand Postma en Nankie de Wit. Natuurlik mnr. Fanie Louw, Roelf le Roux, Ed Vlakhaas Kotze, almal manne wat ons lewe op De Aar een groot voorreg gemaak het! Ons salueer julle!

Willie (Dop) Olivier

Ons Skoolied

Hier's 'n skool met ideale,
Wat sterk karakters bou.
Wat krag gee in die lewe,
Om altvd koers te hou.
Blou, silwer met die groen
Dit is ons eie kleur.
Die vlag wat ons wil hooghou.
Alma Mater tot jou eer.

0, Hoërskool De Aar
Om soos jy leer te lewe
Vra ons van Bo gena
Vir jou sal ons onthou.
Aan jou bly ons getrou.
Jy lê die fondament
Waarop ons voortaan bou.

WOORDE: Mev. Sterrie Marais

MUSIEK: Mev. M de Wet

Hoërskool De Aar

Hoërskool De Aar bied wonderlike geleenthede aan elkeen van hul leerlinge en almal wat hierdie geleenthede aangryp, sal help bou aan hierdie trotse rekord. Jy kan ook uitstyg by HSDA. 
Lees meer...

Karoofees

Hoërskool De Aar bied elke jaar die Karoofees aan. Die skool se skoolterrein word vir hierdie geleentheid beskikbaar gestel.Die fees dien as belangrike fondsinsamelingprojek vir die skool.
Lees meer...

Ouskoliere Saamtrekke

Oudskoliere van Hoërskool De Aar hou gereeld saamtrekke tydens die jaarlikse Karoofees. Behalwe hierdie re-unies word daar ook greeld saamtrekke op verskeie plekke in die land gehou. Kyk gerus na die foto-album om te sien hoe lyk jou klasmaats nou.

Go to top